Posts

Showing posts with the label Verhaal

Morsjors

Image
Ek loop vandag iemand raak wat sy leë ‘chips’- sakkie net so op die straat gooi. Meestal sê ek niks en beweeg maar net aan met my lewe, maar hierdie keer het ek die persoon voorgekeer en hom gevra waarom hy nie die papier in die asblik gooi nie. Sy antwoord… “job creation”. Stom geslaan het ek toe maar net weggeloop. Ek is jammer maar ek verstaan dit nie. So hy wil liewer in ‘n vuil land woon, solank daar werk is vir almal… wat nie eers die geval is nie want die vuiligheid bly vir weke daar lê! Is dit dan die munisipaliteit se skuld? Waarvoor is die borde op die snelweg “keep Gauteng clean, do not litter” dan? Waar is jou trots op ‘n mooi, skoon land? Die Here het ons konings gemaak van hierdie wêreld. Die eer om na Sy skepping te mag kyk en dit te versorg en op te pas!. En die opdrag is vir my gegee… nie vir ‘n ander persoon nie. Vat die verantwoordelikheid vas! Gooi jou eie papiertjies in die asblik. Dit begin by jou!

My asem verloor in die branders

Image
Ek het nie geweet of ek kom of gaan nie. Die water het oor my gespoel soos ‘n golf met mag. Om en om het ek getol. Met elke rol het my kop teen die grond gestamp. Ek het geprobeer om te snak na asem, maar het geweet as ek my mond oop maak is dit verby. Vreemde geluide het deur my keel gegaan. My longe wou bars. Ek kon nie meer, ek kon net nie meer nie. Tyd het stil gaan staan. Minute het verby gegaan voor ek weer bo uit gekom het. Of altans dit het soos minute gevoel. Dit was sekerlik net sekonde. Hoe lank kan mens jou asem ophou as jy onverwags oorrompel word? Die see wou my nie meer gehad het nie. Hy het my uit gespoeg. Hy het van my ontslae geraak. Soos ‘n nat lap het hy met my gemaak wat hy wou. En ek kon geen verweer toon nie. Al wat oor gebly het vir my om te doen toe ek weer terug is op die strand, is om op te staan en weer in te gaan. Daai tyd het ek nie besef wat gebeur het nie. Ek moes die Here daar en dan gedank het dat Hy my van ‘n amperse dood gered het.