My asem verloor in die branders

Ek het nie geweet of ek kom of gaan nie. Die water het oor my gespoel soos ‘n golf met mag.

Om en om het ek getol. Met elke rol het my kop teen die grond gestamp. Ek het geprobeer om te snak na asem, maar het geweet as ek my mond oop maak is dit verby. Vreemde geluide het deur my keel gegaan. My longe wou bars. Ek kon nie meer, ek kon net nie meer nie.

Tyd het stil gaan staan. Minute het verby gegaan voor ek weer bo uit gekom het. Of altans dit het soos minute gevoel. Dit was sekerlik net sekonde. Hoe lank kan mens jou asem ophou as jy onverwags oorrompel word?

Die see wou my nie meer gehad het nie. Hy het my uit gespoeg. Hy het van my ontslae geraak. Soos ‘n nat lap het hy met my gemaak wat hy wou. En ek kon geen verweer toon nie.

Al wat oor gebly het vir my om te doen toe ek weer terug is op die strand, is om op te staan en weer in te gaan. Daai tyd het ek nie besef wat gebeur het nie. Ek moes die Here daar en dan gedank het dat Hy my van ‘n amperse dood gered het.

Ons lewens is klein en nietig. Dit is so maklik om in mens se daaglikse lewe te vergeet Wie eintlik in beheer is. Laat ons dit onthou elke liewe dag.

Popular posts from this blog

Virtual Hope in a Virtual World

Bid vir daai voet in die deur